
DEON SCHEEPERS van Hilton College in KwaZulu-Natal sê dit is ’n groot voorreg om Grey-kollege (sekondêr) se nuwe skoolhoof te word.
Die onderwysdepartement het gister die beheerliggaam se benoeming van Scheepers bekragtig. Hy sal in Januarie oorneem by Johan Volsteedt.
Jan Berry, beheerliggaam-voorsitter, sê in ’n verklaring die voorgeskrewe proses vir die aanstelling van die nuwe hoof is tot in die fynste besonderhede gevolg.
“Ons glo dat mnr. Scheepers as skoolhoof van sy alma mater die skool tot nuwe hoogtes sal inspireer en wens hom sterkte toe.”
Scheepers het in 1984 aan Grey gematrikuleer. Nadat hy sy eerste onderwysgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, het hy aan Grey Afrikaans gegee en muurbal en rugby afgerig.
Hy was ses jaar lank ’n onderwyser aan Grey voordat hy na Michaelhouse in KwaZulu-Natal is. Sedert 2000 is hy by Hilton College waar hy Afrikaans gee, lid van die senior bestuurspan, asook koshuishoof is. Hy het die grade B.A., B.Ed., M.Ed., ’n hoër onderwysdiploma, asook ’n MBA.
Die kortlys van vyf kandidate is deur ’n subkomitee van die beheerliggaam en die voorsitter van Grey-kollege-Reünie in die teenwoordigheid van vakbondverteenwoordigers opgestel. ’n Menslike hulpbronpraktisyn van die onderwysdepartement was ook betrokke, sê Berry.
Hy sê die kortlys is objektief, sonder diskriminasie en volgens werkrelevante maatstawwe opgestel. “Volgens die vakbondverteenwoordigers wat die proses bygewoon het, was hulle 100% tevrede dat dit ’n deursigtige en objektiewe proses was.”
Volsteedt word ’n ander pos by die skool aangebied. Dié pos behels geldinsameling, bemarking, strategiese beplanning, skakeling met sekere afdelings van die onderwysdepartement en die voortsetting van die Grey-Akademie vir minderbevoorregtes.
Die beheerliggaam sê hy het dié pos geskep sodat die nuwe skoolhoof sy aandag aan die dag-tot-dag-aktiwiteite van die skool kan wy. Berry sê weens die toenemende druk en moeilike werklading op skoolhoofde is hierop besluit.
- Volksblad
|